Stories

Vusi en Sinazo

Vusi is lief vir sy hond, Domino. Domino is wit met drie swart vlekke op sy rug. Vusi se jonger sussie, Sinazo, is lief vir haar kat, Fluffy. Fluffy is swart met drie wit vlekke op haar maag.

“My hond is beter as jou kat,” sê Vusi een Sondagoggend terwyl hulle ontbyt eet. “Domino krap my nie. Domino drink nie my melk nie. En Domino loop nooit met sy modderpote oor my skoolboeke nie.”

“Domino is baie stout,” sê Ouma. “Hy luister nooit nie. Wanneer ’n mens vir hom sê om te sit, spring hy rond. Wanneer ’n mens vir hom sê om te spring, sit hy, en wanneer jy gaan sit, spring hy op en lek ’n mens se gesig!”

“My kat is beter as jou hond,” sê Sinazo. “Fluffy lek nie my gesig nie en sy steel ook nie my roomys nie. Fluffy mors nie in die erf nie, en sy blaf nooit nie.”

Vusi and Sinazo Pic1

“Eet julle ontbyt klaar, kinders,” sê Ouma. “Ek moet my groente gaan natlei. My mielies is amper reg om te eet. Hulle gaan hierdie jaar groot en soet wees.”

 

Ouma het amper die groentetuin klaar natgelei. “Gaan maak vir Domino in die agterplaas toe,” sê sy vir Vusi. “Gaan was dan jou gesig, borsel jou tande, kam jou hare en trek jou kerkklere aan.”

“Gaan maak vir Fluffy in die agterplaas toe,” sê sy vir Sinazo. “Gaan was dan jou gesig, borsel jou tande, kam jou hare en trek jou beste klere aan.”

Vusi gaan maak sy hond in die agterplaas toe. “Bly hier,” sê hy vir Domino. “Jy moet ’n soet hond wees en stil hier wag terwyl ons kerk toe gaan.” Vusi hardloop weer binnetoe, maar hy vergeet om die kombuisdeur toe te maak. Die stoute Domino hardloop agterna. Hy gaan kruip onder Vusi se bed weg.

Sinazo gaan maak vir Fluffy in die agterplaas toe. “Bly hier,” sê sy en sit vir Fluffy in ’n boom. “Wees nou ’n soet kat terwyl ons kerk toe gaan.” Sinazo hardloop binnetoe om te gaan aantrek, maar sy vergeet om die slaapkamervenster toe te maak. Die stoute Fluffy spring deur die venster. Sy spring bo-op die klerekas en raak aan die slaap.

Sinazo en Vusi doen wat hulle Ouma sê. Hulle gaan badkamer toe. Hulle was hulle gesigte. Hulle borsel hulle tande. Hulle kam hulle hare. Toe gaan hul na hul slaapkamer om hulle kerkklere aan te trek.

“Vusi,” roep Ouma, “help asseblief vir Sinazo om aan te trek.” Sinazo staan op haar tone om haar kerkrok in die kas te probeer bykom.

“Woef, woef, dis pret,” blaf Domino, en spring onder die bed uit. Hy spring teen die kas op en lek vir Sinazo met sy lang rooi tong.

“Gaan weg, Domino!” skree sy.

Fluffy is baie kwaad omdat sy wakker geraas word. Sy loer oor die rand van die kas en sien hoe Domino teen Sinazo opspring. “Ssssss! Jy mag dit nie doen nie,” sis sy. “Hou dadelik op, of ek krap jou.”

Domino spring soos ’n dol kangaroe teen die kas. “Woef, woef, woef,” blaf hy vir die kat. “Kom speel. Dis baie pret.”

Net toe kom Ouma in die gang afgestap. Sy is gereed om kerk toe te gaan. Sy dra haar beste rok, haar netjiese skoene en haar gunstelinghoed. “Wat gaan hier aan?” vra sy kwaai, en maak die deur oop. “Dis amper tyd om te gaan.”

Op daardie presiese oomblik besluit Fluffy om van die kas af te spring. Sy vlieg deur die lug en land – op Ouma se kop. En op daardie presiese oomblik besluit Domino om op die kas te spring. Hy vlieg deur die lug, maar land op Ouma en stamp haar om. Vusi vang haar net betyds.

Ouma gaan sit op ’n stoel. Sy is baie kwaad. “Julle is baie stoute kinders,” sê sy. “Julle kry nie vandag na kerk ’n sjokolade nie. Gaan maak nou die kat en die hond in die agterplaas toe. Ons moet kerk toe gaan.”

Die kinders maak die diere in die agterplaas toe en hulle gaan kerk toe. Domino gaan lê en slaap in die son, maar Fluffy klim op die huis se dak. Van daar af kan sy ver en wyd sien. Sy sien die kinders en Ouma wat kerk toe stap. Sy hoor hoe hulle in die kerk sing. Toe hoor sy iets anders. Dit is ’n sagte piepgeluid, asof iemand die hek na Ouma se groentetuin oopmaak.

Sy loer oor die rand van die dak. Daar, in die voortuin, is ’n nare man. Hy staan in die groentebedding, en hy steel Ouma se mielies.

“Hooooowwwwaa!” skreeu Fluffy, spring van die dak af en land op die man se kop.

“Klim af, klim af!” skreeu die dief en probeer Fluffy van sy kop af trek.

Die lawaai maak Domino wakker. Hy kom om die hoek van die huis gehardloop. “Woef! Woef! Woef! Gaan weg, gaan weg, gaan weg!” blaf hy.

“Neeee, bly weg van my af!” gil die dief. Hy laat val sy mandjie en spring oor die heining. Domino wag hom in. Soos blits gryp Domino die dief se broek en begin trek. Hy trek en trek en grom en grom, en skud en skud, en die dief is vreesbevange.

“Los my, los my!” gil hy, en probeer Domino van sy broek loskry. Toe, SSSKKKEURRRR! skeur die dief se broek heeltemal af. Hy hardloop so vinnig as wat hy kan, met die bult op, verby die kerk, en heelpad huis toe.

En wie kom op daardie oomblik uit die kerk? Vusi, Sinazo en Ouma natuurlik. Hulle lag en lag toe hulle ’n man sonder ’n broek by hulle sien verbyhardloop. En toe, agter hom, sien hulle Domino baie vinnig hardloop met die man se broek in sy bek.

Vusi and Sinazo Pic2

“Julle is albei baie goeie diere,” sê Ouma toe hulle by die huis kom. Al haar groente is veilig. “Julle het my groente teen daardie dief beskerm.”

“Beteken dit ons gaan tog sjokolade kry?” vra Vusi.

“Ja,” sê Ouma. Sy neem hulle winkel toe en koop vir elkeen ’n groot pepermentsjokolade. Toe koop sy vir Domino ’n lekker vleisbeen en ’n blikkie vis vir Fluffy. Almal was baie gelukkig, behalwe die dief. Hy was so skaam omdat almal hom sonder sy broek gesien het, dat hy baie ver weggehardloop het na ’n ander dorp, en hy is nooit weer gesien nie.