Stories

Thoko se spesiale sop

Dit is ’n koue, reënerige oggend. Mamma het haar warm jas en serp aan. “Thoko,” sê Mamma, “ek gaan Kaapstad toe vir ’n werksonderhoud. Ek sal betyds terug wees vir aandete.”

Gogo en Thoko kyk deur die venster hoe Mamma deur die reën stap. Arme Mamma! Gogo sê: “Brrr, dis te koud om hier te staan. Ek gaan weer in die bed klim.”

Thoko gooi haar gunstelinggraankos in ’n bakkie, gooi ’n bietjie melk oor en roer. En dis toe sy haar briljante plan kry. Toe sy klaar geëet het, maak sy ’n pot vol water en kyk in die yskas wat sy kan byvoeg. Aha, gisteraand se oorskietpap en -sous! Thoko keer die oorskiet in die pot om en roer dit tot die pap verkrummel en die sous die water bruin kleur. Toe klim sy op ’n stoel om in die koskas te kyk.

“Wat doen jy?” vra Gogo toe sy in die kombuis inkom. Sy het nog haar wollerige pienk kamerjas aan.

“Ek maak sop vir wanneer Mamma koud en honger by die huis kom,” sê Thoko.

“Wat ’n blink plan,” sê Gogo. “Kom ek help jou.”

Gogo kyk in die pot. “Wat is dit?” vra sy.

“Oorskiet,” sê Thoko.

“Dis ’n goeie manier om sop te begin maak,” sê Gogo, “maar ons het iets anders ook nodig.”

“Ek weet,” sê Thoko. “Perskes! Mamma hou van perskes.”

“’n Mens sit nie perskes in sop nie, Thoko,” sê Gogo. “Wat ons nodig het, is ’n wortel.”

Gogo skil ’n wortel en kap dit fyn. Toe sit sy dit in die pot en sit die pot op die stoof om te kook. Dan voeg Gogo ’n hand vol split-ertjies by. Thoko maak die kas oop en haal ’n pakkie gemmerkoekies uit.

“Mamma hou so baie hiervan,” sê Thoko. “Dit sal die sop baie lekker laat smaak.”
Eating soup low res

Gogo lag. “Ai, Thoko, niemand sit koekies in sop nie. Wat ons nodig het, is ’n blikkie tamaties, ’n ui, ’n lepel groente-aftreksel en ’n knippie sout.

Gogo maak ’n blikkie tamaties oop en laat Thoko dit by die sop voeg. Toe sit sy die groente-aftreksel by en begin ’n ui fynkap.

Gou-gou is Gogo se oë vol trane. “Eish!” sug Gogo. “As ek uie kap, laat dit my oë traan, en as ek huil, loop my neus. Roer gou die sop so effentjies terwyl ek my neus gaan snuit.”

Thoko roer en kyk hoe al die sopbestanddele wat Gogo bygevoeg het al in die rondte draai. Die enigste ding wat sy bygevoeg het, was die oorskiet. Dis nie regverdig nie! Dis veronderstel om Thoko se spesiale sop vir Mamma te wees − nie Gogo s’n nie!

Terwyl Gogo weg is, gaan Thoko na die kas en vind iets spesiaals wat sy weet Mamma baie van hou. Sy voeg dit vinnig by die sop en roer dit in. Toe Gogo terugkom, sê sy: “Mmmm, nou ruik dit soos spesiale sop!”

Thoko en Gogo laat die sop ’n hele rukkie prut. Toe sit Gogo die plaat af en sê: “Nou kan ons dit warm maak net voor Mamma huis toe kom. Kom, Thoko, ek sal vir jou ’n storie lees terwyl ons vir Mamma wag.”

Terwyl Gogo lees, raak Thoko aan die slaap. En toe sy weer hoor, gaan die voordeur oop en Mamma roep: “Ek’s terug!”

Mamma lyk koud en moeg, maar sy het goeie nuus. Sy het die werk gekry!

“Ek is dood van die honger!” sê Mamma, en trek haar jas uit. “Wat ruik so lekker?”

“Thoko het vir jou sop gemaak,” sê Gogo.

“Dankie, Thoko,” sê Mamma. “Dis net wat ek nodig het om my warm te maak.”

Toe Mamma droë klere aangetrek het, gaan sit hulle om te eet.

“Mmmmm,” sê Mamma, “dis heerlik! Wat is dit wat hierdie sop so spesiaal laat proe?”
Making soup low res

“Ek het van daardie lekker groente-aftreksel bygevoeg,” sê Gogo.

“Nee,” sê Mamma, “dis nie dit nie. Ek proe …”

Thoko bly doodstil. Gogo frons.

“Ja, iets wat lekker soet smaak!” sê Mamma.

Toe hulle klaar geëet het, stap Mamma na die koskas en sê: “Nou het ek iets wat ek vir ’n spesiale geleentheid gebêre het.” Maar Mamma kry nie waarna sy soek nie. “Dis vreemd,” sê Mamma, “ek het drie blokkies van my gunstelingsjokolade vir ’n spesiale geleentheid gebêre.”

Thoko sit kop onderstebo. Sy kan voel hoe Gogo vir haar kyk.

“Thoko,” vra Gogo, “wat het jy met Mamma se sjokolade gedoen?”

Thoko begin huil terwyl sy vir Mamma vertel dat sy die sjokolade in die sop gesit het. Maar Mamma is nie kwaad nie, en lag net: “So dis wat jou sop so spesiaal gemaak het!”

“En dit is ’n spesiale geleentheid,” glimlag Gogo. “Jy het vandag werk gekry!”

Thoko droog haar trane af.

“Weet jy wat, Thoko lief,” sê Mamma, “dit was baie gaaf van jou om vir my sop te maak. Wat noem jy jou sop?”

“Thoko se spesiale sop,” sê Thoko.

“Wel, dit is regtig die lekkerste sop wat ek nog ooit geproe het,” sê Mamma, en gee vir Thoko ’n stywe drukkie.