Stories

Thoko se eerste biblioteekboek

Thoko stap saam met Gogo by die biblioteek in. Sy hou van die reuk van die nuwe gebou. Sy hou van die rakke vol boeke en die blink tafels. Vandag wil sy graag ’n spesiale boek hê om te lees. ’n Storieboek … met prente!

Sy hou Gogo se warm hand vas toe hulle in die vertrek instap waar al die kinderboeke is. ’n Vrou by die lessenaar kyk op en glimlag. Sy dra ’n klein naamplaatjie. Daarop staan: “Bi-bli-o-te-ka-ris”.

“Thoko wil graag ’n boek by die biblioteek uitneem,” sê Gogo.

“Het Thoko ’n biblioteekkaartjie?” vra die bibliotekaris. Thoko skud haar kop. “Wel, jy kan ’n biblioteekkaartjie kry waarmee jy boeke kan uitneem as jou Gogo ’n vorm invul,” sê die bibliotekaris.

Gogo gaan sit op ’n klein geel stoeltjie by ’n klein groen tafeltjie en begin die vorm invul. Thoko sit op ’n rooi stoeltjie en kyk om haar rond. Daar is baie verskillende gekleurde tafels en stoele. Teen die mure is daar kleurvolle prente en plakkate. Op die rakke is rye en rye en rye boeke.

“Ek hou daarvan om hier te wees,” fluister Thoko. Gogo kyk op en glimlag.

“Waarom gaan soek jy nie ’n lekker boek om uit te neem nie,” sê Gogo.

Thoko stap stadig deur die vertrek. Party boeke is op rakke wat te hoog is vir haar om by te kom. Sy kan party van die boeke bykom, maar hulle het te veel woorde en geen prente nie.

“Kom ek wys vir jou waar die prenteboeke is, Thoko,” sê die vriendelike bibliotekaris, wie se naam Nadia is. Thoko volg Nadia tot by die rakke wat net die regte hoogte vir haar is.

“Vat jou tyd,” sê Nadia. “Ek is seker jy sal die boek vind wat net reg is vir jou.”

Toe Gogo die vorm inhandig, het Thoko net die regte boek gevind – ’n boek oor ’n muis, ’n jakkals, ’n uil en ’n slang EN ’n verskriklike monster met horings en tande.

“Dit lyk soos ’n bangmaakboek. Kom ons kyk of daar een is wat jou nie sal nagmerries gee nie,” sê Gogo. Gogo vind ’n boek met ’n mooi omslag. Dit het ’n prent van ’n feetjie in ’n pienk balletrok met vlerke vol blinkertjies op.

“Dit lyk na ’n pragtige boek,” sê Gogo. Maar Thoko skud haar kop. Sy weet waarvan sy hou en wat sy wil hê. Sy hou haar boek styf vas.

“Aa, almal hou van daardie boek,” sê die bibliotekaris toe sy sien watter boek Thoko gekies het. Thoko kyk goed toe haar boek gestempel word met die datum waarop sy dit moet terugbring. “Daar’s hy!” sê Nadia, en gee vir Thoko haar eerste biblioteekboek en haar eerste biblioteekkaartjie.

“Jy is nou ’n lid van die biblioteek,” sê Nadia. Thoko is baie bly!

“Hou die boek mooi vas,” sê Gogo toe hulle uitstap.

Daardie boek! Wat ’n storie! En die prente! Selfs Gogo het gesê dit is die beste kinderstorie wat sy nog ooit gelees het. En toe Thoko die kinders by die skool van die boek vertel, wil hulle ook almal die prente sien.

Een Vrydag neem Thoko toe die biblioteekboek skool toe sodat Juffrou Rhode, haar onderwyseres, die boek kan lees en die prente vir die klas kan wys. Die kinders lag en hou baie van die storie, veral Themba, wat wil hê dat hulle dit weer en weer moet lees. Maar Juffrou Rhode maak die boek toe en gee dit vir Thoko om veilig in haar tas te bêre.

Daardie aand toe dit slaaptyd is, sê Gogo: “Thoko, môre moet ons jou biblioteekboek gaan ingee. Vanaand is dus die laaste aand dat ons daardie snaakse storie kan lees.” Opgewonde maak Thoko haar tas oop, maar die biblioteekboek is nie daarin nie!

“Ai, Thoko,” sê Gogo, “jy moes dit by die skool vergeet het!”

“Nee,” sê Thoko, “ek het dit in my tas gebêre toe Juffrou Rhode dit vir my teruggegee het!”

Thoko wil huil. Wat sal die bibliotekaris sê as sy nie die volgende dag haar boek terugvat nie? En toe begin sy huil!

“Wie sou dit dan uit jou tas gevat het?” vra Gogo. Thoko dink en dink.

“Themba Nombela!” roep Thoko uit. “Hy het so baie van die storie gehou hy wou hê ons moes dit weer en weer lees!”

“Sal Themba iets steel?” vra Gogo.

“Themba vat soms goed sonder om te vra, maar hy bring dit altyd terug,” antwoord Thoko.

Die volgende oggend gaan Gogo en Thoko na die Nombelas se huis om te kyk of Themba die biblioteekboek het.

“Ja,” sê Themba, “ek wou dit teruggee, maar Linzi Dube het dit by my geleen.”

Themba wys toe vir Gogo en Thoko waar die Dubes woon. Toe hulle by die huis kom, is Linzi daar … maar nie die boek nie!

“Tata het dit,” sê Linzi. “Hy kan nie lees nie, maar hy wou na die prente kyk.”

Linzi, Themba, Thoko en Gogo vat toe die pad na Tata se huis. Hulle vind hom waar hy buite sy voordeur sit en kraai van die lag.

“Ha, ha, ha! Linzi, hierdie boek is net te snaaks! Ek geniet dit so baie,” sê die ou man. Gogo verduidelik dat die boek aan die biblioteek behoort, en dat hulle net ’n paar minute oor het om dit betyds by die biblioteek te gaan ingee.

Thoko het Gogo nog nooit so vinnig sien stap nie. Maar toe hulle by die biblioteek kom, is die deur gesluit. Gogo lees die kennisgewing en sê: “Die biblioteek sal eers weer Maandag oop wees.”

“Maar Gogo, die bibliotekaris sal baie kwaad wees, want die boek moet vandag terug wees.”

“Moenie bekommerd wees nie,” sê Gogo. “Ek sal vir die bibliotekaris verduidelik wat gebeur het. Ek is seker sy sal verstaan wat met so ’n goeie boek soos hierdie een kan gebeur. Almal wil dit lees! En nou kan ons die boek tot Maandag geniet.”

Maandagmiddag neem Gogo en Thoko die boek terug biblioteek toe. Nadia sien dat die boek laat is. Maar toe Gogo verduidelik waarom hulle dit nie betyds kon terugbring nie, glimlag Nadia en sê: “Wat ’n wonderlike storie! Thoko, volgende keer moet jy jou maats bring om by die biblioteek aan te sluit … en Linzi se oupa ook. Op Vrydagoggende leer ons mense lees.”

En dit is presies wat hulle doen.

Nie net Themba, wat dit geniet om boeke uit te neem nie, maar ook Linzi en baie van Thoko se skoolmaats sluit by die biblioteek aan. En Linzi se oupa ook! Hy hou van die nuwe woorde wat hy elke Vrydag leer lees. Maar die boeke waarvan hy die meeste hou, is dié met prente in wat hom laat lag!