Stories

The devoted friend

Een oggend steek Vleirot sy kop deur die riete op die oewer van die rivier. Hy snuif die lug en wikkel die punt van sy neus om te ruik wie verbykom. Sewe pas uitgebroeide eendjies, wat soos ʼn klomp wollerige balletjies lyk, kom in die rivier afgeswem. Hulle mamma kom agter hulle aangeswem. Mamma Eend het ʼn wit gesig en ʼn swart kop. Sy probeer die eendjies leer hoe om in die water op hulle koppe te staan.

“Julle sal nooit enigiemand kan beïndruk as julle nie op julle koppe kan staan nie,” sê sy heeltyd, en wys vir hulle hoe dit gedoen word. Maar die eendjies kyk nie eens vir haar nie. Hulle is so jonk dat hulle nie besef dat dit ʼn voordeel kan wees om ander te beïndruk nie.

“Wat ʼn klomp ongehoorsame kinders!” roep Vleirot, “verdrink hulle.”

“Onsin,” antwoord Mamma Eend, “almal moet iewers begin, en ouers moet geduldig wees.”

“Aa! Ek weet niks van ouerskap nie,” sê Vleirot. “Ek is nie ʼn pa nie, en beplan ook nie om ooit een te word nie. Die liefde is goed is en wel, maar ʼn getroue vriendskap is baie beter.”

“Wat is jou idee van ʼn getroue vriend?” vra ʼn geelbekooievaar wat na die gesprek geluister het terwyl hy daar naby in die water waad.

“Ek sal ook graag wil weet,” sê die eend, en staan weer op haar kop.

“Wat ʼn dom vraag!” skree Vleirot. “My getroue vriend moet natuurlik toegewy wees aan my.”

“Wat sal jy in ruil doen?” vra Ooievaar, skuifel sy pote, en pik met sy lang geel snawel in die modder rond.

“Ek verstaan nie,” antwoord Vleirot.

“Kom ek vertel vir jou ʼn storie,” sê Ooievaar.

“Gaan die storie oor my?” vra Vleirot. “Indien wel, sal ek luister.”

“Jy kan so sê,” antwoord Ooievaar, vang ʼn vis in sy snawel en sluk dit af met ʼn ruk van sy kop. Hy staan op een been, sug tevrede en vertel hierdie storie van die getroue vriend.

Hoofstuk 2

Eendag was daar ʼn eerlike kêrel met die naam Sizwe.

“Was hy baie indrukwekkend?” val Vleirot hom in die rede.

“Ek dink nie hy het probeer om ander mense te beïndruk nie,” antwoord Ooievaar. “Hy was baie goedhartig − dit was in sy aard. In elk geval, laat ek voortgaan …”

Sizwe het heeltemal alleen in ʼn klein hut naby ʼn stroom gewoon. Hy het elke dag op sy landerye gewerk. In die hele geweste was daar geen landerye wat so vrugbaar was soos syne nie. Daar het mielies en tamaties gegroei, en die pampoene was so groot soos kruiwawiele. Daar was spinasie en aartappels, en twee hoë piesangbome. Sy wortels was so soet en so oranje dat mense dit sommer rou geëet het voordat hulle dit kon kook. Soms het hy selfs sappige rooi aarbeie geplant.

Klein Sizwe het baie vriende gehad, maar sy mees getroue vriend was die suiwelboer wat bo-op die heuwel geboer het. So getrou was die ryk suiwelboer dat hy nooit verby Sizwe se landerye gestap het sonder om oor die heining te leun en ʼn paar mielies of  ʼn tros piesangs af te pluk om huis toe te vat nie.

“Ware vriende moet deel,” sê die suiwelboer. Klein Sizwe knik en glimlag, en voel trots dat sy vriend sy groente en vrugte so baie waardeer.

Klein Sizwe het nooit gewonder waarom die ryk suiwelboer hom nooit iets in ruil gee nie. Die suiwelboer het immers honderd ronde kase in sy kelder gehad, en dertig melkkoeie, en ʼn groot trop wolskape. Sizwe was dankbaar dat hy na al die wonderlike dinge kon luister wat die suiwelboer sê oor die onselfsugtigheid van ware vriendskap.

En so werk klein Sizwe op sy landerye. Regdeur die herfs, winter en lente is hy baie gelukkig, maar toe die somer kom, begin dit hard reën. Die stroom word ʼn rivier, die rivier oorstroom sy walle en die water loop tot in Sizwe se landerye. Die gewasse wat hy geplant het, spoel weg, en die res vrot onder die water. Sizwe het geen groente om mark toe te neem nie. Daardie hele lang somer ly hy dikwels honger, of hy het net ʼn paar mango’s om te eet voor hy gaan slaap. Hy is ook baie eensaam, want in hierdie tyd kom die suiwelboer nooit vir hom kuier nie.

Hoofstuk 3

“Dit dien geen doel om vir klein Sizwe te gaan kuier terwyl sy landerye oorstroom is nie,” sê die suiwelboer vir sy vrou. Hulle plaas is bo-op die heuwel, en daarom is sy koeie en skape en velde en landerye veilig. “Wanneer mense in die moeilikheid is, moet ʼn mens hulle met rus laat en nie gaan kuier nie. Ek sal wag tot die water wegtrek en Sizwe weer ʼn nuwe oes aangeplant het. Dan sal ek weer vir hom gaan kuier, en hy sal vir my ʼn groot mandjie groente kan gee, en dit sal hom baie gelukkig maak,” sê die suiwelboer.

“Jy is beslis ʼn baie bedagsame vriend,” antwoord sy vrou terwyl sy die kruideniersware in die yskas pak. “Inderdaad baie bedagsaam. Dit is hopeloos te warm om uit te gaan. En dit sal aaklig wees vir arme klein Sizwe as jy sy geruïneerde landerye sien.”

“Maar kan ons hom nie oornooi nie?” sê die suiwelboer se jongste seun, terwyl hy sy kos kou. “As arme Sizwe in die moeilikheid is, sal ek my toebroodjie met hom deel en hom my wit konyne wys om hom op te beur.”

“Moenie laf wees nie!” skree die suiwelboer. “Wat help dit dat ek jou skool toe stuur as jy niks leer nie. As klein Sizwe hierheen kom en ons heerlike koel swembad en ons goeie kaas en ons lekker fles rooiwyn sien, sal hy dalk afgunstig raak. Afguns is ʼn nare ding. Dit kan goedhartigheid doodmaak. Ek sal beslis nie toelaat dat Sizwe se goedhartigheid kwyn nie. Ek is sy beste vriend. Ek sal altyd na hom kyk en seker maak dat hy nie in die versoeking kom nie. Buitendien, as Sizwe hierheen kom, sal hy dalk van ons kaas op krediet wil koop, en dit kan ek nie toelaat nie. Kaas is een ding; vriendskap is iets anders, en hulle moet nooit met mekaar verwar word nie. Die woorde word selfs verskillend gespel, en dit beteken heeltemal verskillende dinge. Almal weet dit.”

“O, maar jy is wel ter tale!” sê die suiwelboer se vrou, en skink vir haarself  ʼn groot glas melk. “Ek voel skoon lomerig van so na jou luister. Dis soos om in die kerk te sit.”

“Baie mense doen goeie dade,” antwoord die suiwelboer, “maar baie min mense kan goed praat. Dit is baie moeiliker om welsprekend te wees, en daarom is ek so ʼn vername man.” Hy kyk streng na sy klein seuntjie oorkant die tafel, wat so skaam is dat hy sy kop laat sak, bloedrooi bloos en begin huil dat die trane in sy tee drup.

Hoofstuk 4

“Is dit die einde van die storie?” vra Vleirot.

“Beslis nie,” antwoord Ooievaar. “Dit is die begin.”

“Dan is jy baie ouderwets,” sê Vleirot. “Elke goeie storieverteller begin deesdae by die einde, vorder dan na die begin en eindig in die middel. Dit is die nuwe manier. Ek het dit nou die dag gehoor by ʼn kritikus wat saam met ʼn jong man langs ons rivier gestap het. Hy het lank daaroor uitgewei, en ek is seker hy is reg, want hy het ʼn blou bril opgehad, en hy was bles, en elke keer as die jong man iets gesê het, was sy antwoord altyd, ‘Twak!’. Maar gaan voort met jou storie. Ek hou vreeslik baie van die suiwelboer,” sê Vleirot.

Ooievaar haal diep asem en vertel verder.

Toe die vloedwater wegtrek, begin klein Sizwe weer werk. Hy ploeg en werk kompos in sy landerye in en toe plant hy sy vrugte en groente. Hy werk van vroeg soggens tot saans laat. Hy werk tot die sweet van hom afdrup en sy hande vol blase is.

Kort voor lank begin die saailinge hul blaartjies deur die grond uitstoot na die son toe. Die koolkoppe word so groot soos babas se koppies, en die boontjieranke rank teen die heining op. Van bo van die heuwel af sien die suiwelboer dat klein Sizwe se landerye weer heeltemal herstel het. Hy sê vir sy vrou dat hy weer vir Sizwe gaan kuier.

“Jy het darem maar ʼn goeie hart!” sê sy vrou, “jy dink altyd aan ander. En neem asseblief die groot mandjie saam vir die groente.”

Die suiwelboer stap teen die bult af met die mandjie oor sy arm.

“Goeiemôre, klein Sizwe,” sê die suiwelboer.

“Goeiemôre,” sê Sizwe, leun op sy graaf en glimlag van oor tot oor.

“En hoe was die somer vir jou?” vra die suiwelboer.

“Dis baie gaaf dat jy vra,” sê Sizwe, “inderdaad baie gaaf. Ek is bevrees dit was ʼn moeilike tyd vir my as gevolg van die oorstromings, maar nou is ek weer baie gelukkig en my groente kom mooi aan.”

“Ons het in die somer dikwels van jou gepraat, Sizwe,” sê die suiwelboer, “en gewonder hoe dit met jou gaan.”

“Dit is baie gaaf van julle,” sê Sizwe. “Ek was bang julle het van my vergeet.”

“Jy verbaas my, Sizwe,” sê die suiwelboer. “Vriende vergeet nooit van mekaar nie. Dit is die wonderlike ding van vriendskap.”

Die suiwelboer kyk om hom rond. “Jou koolkoppe lyk darem pragtig!” sê hy.

“Ja, hulle is regtig baie mooi,” sê Sizwe, “en ek is baie gelukkig om so baie te hê. Ek gaan hulle aan die burgemeester se dogter verkoop. Dan kan ek die geld gebruik om my waentjie terug te koop.”

“Jou waentjie terugkoop? Moenie vir my sê jy het dit verkoop nie? Wat ʼn dom ding om te doen!” sê die suiwelboer.

Hoofstuk 5

“Wel, die saak staan so,” sê Sizwe, “ek moes dit doen. Omdat my landerye oorstroom het, het ek geen geld gehad om brood te koop nie. Ek moes eers my leerbaadjie verkoop, toe my silwer ketting en heel laaste het ek my waentjie verkoop. Maar ek gaan alles terugkoop.”

“Ek sal my waentjie vir jou gee,” sê die suiwelboer. “Dis nie in ʼn baie goeie toestand nie. Die een kant is stukkend, en daar skort iets met die wiele, maar ek sal dit nietemin vir jou gee. Dis baie vrygewig van my. Baie mense sal dink ek is laf om dit weg te gee, maar ek dink vrygewigheid is waaroor vriendskap eintlik gaan. Buitendien, ek het vir my ʼn nuwe waentjie gekoop.”

“Dit is baie vrygewig van jou,” sê klein Sizwe en sy gesig straal van blydskap. “Ek kan die waentjie regmaak, want ek het ʼn houtplank in my skuur.”

“’n Houtplank!” sê die suiwelboer verheug. “Dis presies wat ek nodig het om die gat in my heining reg te maak. Die skape sal uitkom as ek dit nie regmaak nie. Dis nou ʼn gelukkie dat jy dit noem! Dis ongelooflik hoe een goeie daad altyd tot ʼn volgende lei. Ek gaan vir jou my waentjie gee, en jy sal vir my jou houtplank gee. Natuurlik is die waentjie baie meer werd as die houtplank, maar ware vriendskap sien dit nie raak nie. Gaan haal dadelik die plank sodat ek vandag nog my heining kan regmaak.”

“Sekerlik,” antwoord klein Sizwe. Hy hardloop na sy skuur toe en sleep die plank uit.

“Dis nie ʼn baie groot plank nie,” sê die suiwelboer terwyl hy daarna kyk, “en ek is bevrees as ek my heining klaar reggemaak het, gaan daar niks oorbly waarmee jy die waentjie kan regmaak nie, maar dis nie my skuld nie. En aangesien ek nou vir jou my waentjie gee, is ek seker jy sal vir my koolkoppe in ruil gee. Hier is die mandjie. En maak dit tog heeltemal vol.”

“Heeltemal vol?” vra klein Sizwe taamlik treurig, want dit is ʼn baie groot mandjie, en hy weet as hy dit vol maak, sal hy dalk nie genoeg geld verdien om sy leerbaadjie terug te koop nie.

Hoofstuk 6

“Wel,” antwoord die suiwelboer, “aangesien ek my waentjie vir jou gaan gee, dink ek nie dis te veel gevra om vir ʼn paar koolkoppe te vra nie. Ek mag verkeerd wees, maar ek sou dink vriendskap, ware vriendskap, is vry van enige selfsug.”

“My liewe vriend, my beste vriend,” antwoord klein Sizwe, “jou goeie dunk van my is vir my baie meer werd as my leerbaadjie.” Hy gaan sny vyf koolkoppe af en pak die boer se mandjie daarmee vol.

“Tot siens, klein Sizwe,” sê die suiwelboer terwyl hy teen die bult opstap met die plank op sy skouer en die swaar mandjie in sy hand.

“Tot siens,” sê klein Sizwe terwyl hy vrolik begin spit. Hy is baie bly oor die waentjie wat hy binnekort gaan kry.

Die volgende dag soek Sizwe slakke in die spinasie toe hy hoor hoe die suiwelboer hom van die pad af roep. Sizwe hardloop langs sy landerye af en kyk oor die heining. Daar staan die suiwelboer met ʼn groot sak kaas op sy rug.

“Liewe klein Sizwe,” sê die suiwelboer, “sal jy hierdie sak kaas vir my mark toe neem?”

“O, ek is baie jammer,” sê Sizwe, “maar ek is vandag baie besig. Ek moet al die onkruid tussen my groente uittrek.”

“Dit sal nie deug nie,” sê die suiwelboer. “Aangesien ek my waentjie vir jou gaan gee, is dit eintlik onvriendelik van jou om te weier.”

“O, nee, moet tog nie so sê nie,” antwoord klein Sizwe. “Ek sal nooit onvriendelik teenoor jou wees nie.” Sizwe hardloop na sy hut toe om sy hoed te gaan haal, en strompel weg met die swaar sak kaas op sy skouers.

Dit is ʼn baie warm dag. Voor Sizwe by die dorp kom, is hy so moeg dat hy moet gaan sit om te rus. Uiteindelik kom hy by die mark aan waar hy die kaas vir ʼn baie goeie prys verkoop. Toe stap hy vinnig terug huis toe, want hy is bang dat hy rowers langs die pad sal teëkom.

Hoofstuk 7

Vroeg die volgende oggend kom die suiwelboer die geld vir sy kaas haal, maar klein Sizwe is so moeg dat hy nog in die bed is.

“Goeiste,” roep die suiwelboer uit, “jy is baie lui. Luiheid is ʼn groot sonde, en ek hou beslis nie daarvan as my vriende lui is nie. Verskoon maar dat ek so prontuit praat. Wat is die waarde van vriendskap as ʼn mens nie die waarheid kan praat nie? Enigiemand kan iemand anders goedpraat en vlei, maar ʼn ware vriend sê onaangename dinge, want hy weet dit is vir die beste.”

“Ek is so jammer,” sê klein Sizwe, en vryf sy oë, “maar ek was so moeg dat ek in die bed gelê en luister het hoe die voëltjies sing. Ek werk altyd beter as ek die voëltjies hoor sing het.”

“Wel, ek is bly om dit te hoor,” sê die suiwelboer, en klap klein Sizwe op die rug, “want ek wil hê jy moet vandag my heining kom regmaak.”

Arme klein Sizwe is baie angstig om op sy landerye te gaan werk, want hy moet uie plant.

“Sou dit onvriendelik van my wees as ek sê ek is besig?” vra hy ingetoë.

“Wel,” antwoord die suiwelboer, “ek dink nie dit is te veel gevra nie, aangesien ek my waentjie vir jou gaan gee, maar as jy weier, sal ek maar self die heining regmaak.”

“O, nee! Asseblief nie,” antwoord klein Sizwe. Hy trek sy klere aan en stap op na die suiwelplaas toe.

Hy werk die hele dag lank, tot die son ondergaan, toe die suiwelboer kom kyk hoe hy vorder.

“Aa!” sê die suiwelboer, toe hy sien dat sy heining reggemaak is, “die beste werk is die werk wat ʼn mens vir iemand anders doen.”

“Dit is ʼn voorreg om jou te hoor praat,” antwoord klein Sizwe, gaan sit en vee die sweet van sy voorkop af, “’n baie groot voorreg. Ek is bevrees ek sal nooit sulke wonderlike idees hê nie.”

“O, dit sal kom,” sê die suiwelboer. “Op die oomblik ervaar jy vriendskap in die praktyk, maar eendag sal jy ook die teorie leer. Nou moet jy liewer huis toe gaan om te rus, want ek wil hê jy moet vroeg môreoggend my koeie stal toe jaag en hulle melk.”

Arme klein Sizwe is die volgende oggend vroeg op. Hy jaag die suiwelboer se koeie stal toe en die res van die oggend melk hy die koeie. Toe hy teruggaan huis toe, is hy so moeg dat hy in sy stoel aan die slaap raak.

Hoofstuk 8

“Wat ʼn wonderlike dag gaan ek vandag op my landerye deurbring,” dink Sizwe toe hy die volgende oggend wakker word, selfs al is sy arms seer van al die melkery.

Maar op een of ander manier kan hy nooit op sy landerye werk nie, want sy vriend, die suiwelboer kom altyd oor en stuur hom ver weg om opdragte te gaan uitvoer, of vra hom om op die suiwelplaas te kom help. Klein Sizwe is baie bekommerd, want hy is bang sy groente begin dink hy het van hulle vergeet. Hy troos hom egter daaraan dat die suiwelboer sy beste vriend is wat vir hom sy waentjie gaan gee.

Klein Sizwe werk baie hard vir die suiwelboer, en die suiwelboer sê allerhande pragtige dinge oor vriendskap. Sizwe skryf alles in ʼn notaboek neer en lees saans die woorde, want hy is ʼn baie goeie leerling.

Een koue wintersaand sit klein Sizwe voor die vuur toe daar ʼn harde klop aan die deur is.

“Dit moet ʼn arme reisiger wees,” dink klein Sizwe toe hy deur toe hardloop. Maar daar staan die suiwelboer met ʼn flits in een hand en ʼn lang stok in die ander.

“Liewe klein Sizwe,” roep die suiwelboer, “ek is in groot moeilikheid. My seuntjie het van ʼn leer af geval en seergekry. Hy moet dokter toe gaan, maar die dokter woon so ver weg en dit is so koud vanaand. Ek dink dit sal die beste wees as jy die dokter gaan haal, nie ek nie. Jy weet ek gaan vir jou my waentjie gee, en daarom is dit net regverdig dat jy vir my iets in ruil sal doen.”

“Natuurlik,” antwoord klein Sizwe. “Dit is vir my ʼn kompliment dat jy my vra. Ek sal dadelik gaan. Leen vir my jou flits, want dit is baie donker, en ek is bang ek sal in ʼn donga val.”

“Ek is jammer,” antwoord die suiwelboer, “dit is my nuwe flits en ek sal groot skade ly as dit iets oorkom.”

“Toe maar, ek sal regkom,” sê klein Sizwe dapper. Hy gaan haal sy jas en sy warm rooi pet. Toe bind hy ʼn lang serp om sy nek en val in die pad.

Hoofstuk 9

Dit is baie, baie koud, met net ʼn dun sekelmaan wat skyn. Klein Sizwe kan skaars sien, maar na drie uur se stap, klop hy aan die dokter se deur.

“Wie’s daar?” roep die dokter.

“Klein Sizwe, Dokter.”

“Wat wil jy hê, klein Sizwe?” vra die dokter.

“Die suiwelboer se seun het seergekry en die boer vra dat jy dadelik kom,” antwoord Sizwe.

Die dokter kom by die trap af, klim op sy fiets en ry in die rigting van die suiwelboer se huis. Klein Sizwe begin alleen die lang pad huis toe stap.

Maar donker wolke waai voor die maan in en klein Sizwe verdwaal. Hy loop rivier se kant toe, en dit is ʼn baie gevaarlike plek. Daar is steil kranse aan albei kante van die rivier en arme klein Sizwe val oor die rand en in die vloeiende water in. Die water trek sy swaar jas af en hy verdrink. Die volgende dag vind bokwagters sy liggaam waar dit in ʼn poel water dryf.

By klein Sizwe se begrafnis is die suiwelboer die grootste roubeklaer.

“Ek was sy beste vriend,” sê die suiwelboer. “Dis net regverdig dat ek die beste plek moet kry.” Hy stap dus voor die kis verby en vee sy oë met sy sakdoek af waar almal hom kan sien.

“Klein Sizwe se dood is voorwaar ʼn groot verlies,” sê die suiwelboer se vrou toe die begrafnis verby is. “Wat gaan ons sonder sy groente doen?”

“’n Groot verlies,” antwoord die suiwelboer. “Ek het amper vir hom my waentjie gegee, maar nou weet ek nie wat om daarmee te doen nie. Dit is in my pad by die huis en dit is stukkend. Ek kan dit nie verkoop nie. Ek sal nooit weer enigiets weggee nie. ʼn Mens verloor net as jy vrygewig is.”

“Wel?” sê Vleirot, na ʼn lang pouse.

“Wel, dis die einde,” sê Ooievaar.

“Maar wat het van die suiwelboer geword?” vra Vleirot.

“O! Ek weet regtig nie,” antwoord Ooievaar, “en ek gee ook nie om nie.”

“Dit is duidelik dat jy glad nie simpatiek is nie,” sê Vleirot.

“Ek is bevrees jy sien glad nie wat die les van die storie is nie,” merk Ooievaar op.

“Die wat?” vra Vleirot.

“Die les,” herhaal Ooievaar.

“Bedoel jy die storie het ʼn les?” vra Vleirot.

“Natuurlik,” sê Ooievaar.

“Wel, regtig,” sê Vleirot vies, “ek dink jy moes dit vir my gesê het voordat jy begin het. Dan sou ek nie geluister het nie. Trouens, ek sou gesê het ‘Twak!’ soos die kritikus. Maar nou sê ek dit sommer nou.” Toe skree hy kliphard, “Twak!”, skud sy stert en verdwyn in die riete.

“Hoe hou jy van Vleirot?” vra die eend, wat nader geswem kom.

“Ek is bevrees ek het hom ontstig,” antwoord Ooievaar. “Ek het vir hom ʼn storie met ʼn les vertel.”

“Aa! Dit is altyd ʼn gevaarlike ding om te doen,” sê die eend. Toe duik sy onder die water in en staan op haar kop om vir Ooievaar te beïndruk.