Stories

Mnr. Haas ontmoet mnr. Mandela

Mnr. Haas kruip uit sy boshuisie. Die oggendlug is blou. Die gras is groen. Die bome wieg saggies in die koel bries. Die voëltjies sing. Maar …

Op sy deurmatjie lê iets wat hy nog nooit voorheen gesien het nie: ’n splinternuwe R200-noot.

Mnr. Haas tel dit op. “Wat doen mnr. Luiperd hier?” Hy draai dit om. “A! Mnr. Mandela,” roep hy uit.

Sy linkeroor wip op en af soos hy dink. Hy kyk op na juffrou Sekretarisvoël, wat hom van ’n tak in die doringboom af dophou.

“Roep asseblief al die diere byeen,” sê hy. “Ek het ’n belangrike aankondiging om te maak.”

Terwyl sy wegvlieg roep sy: “Vergadering, almal, vanoggend by die kremetartboom. Vergadering, almal …”

“Wat is dit hierdie keer?” wonder almal en vorm ’n kring om die boom.

Mnr. Haas staan in die middel. Hy maak keel skoon en begin. “Medeburgers van die bos, ek het belangrike nuus vir julle. Dit,” sê hy terwyl hy die R200-noot rondwaai, “het op my deurmatjie beland. Ek weet nie wat dit is of wat dit beteken nie, maar mnr. Mandela se gesig is daarop en ek is seker dit behoort aan hom …”

“My gesig is ook daarop,” sê mnr. Luiperd met ’n speelse grynslag. “Dalk behoort dit aan my.”

Almal behalwe mnr. Haas lag. Hy is nie in die bui vir grappies nie.

“Ek beplan om onmiddellik stad toe te gaan om hierdie belangrike noot vir mnr. Mandela terug te gee.”

“Wat?” vra mnr. Buffel geskok. “Jy sal verdwaal in die stad.”

“Waarom sal ek verdwaal?” vra mnr. Haas, en stoot sy bors uit.

“Want jy kan nie lees nie,” sê mnr. Renoster, en wys met sy skerp horing na mnr. Haas.

“Onsin!” snork mnr. Haas.

“Dis waar,” stamp mev. Olifant ongeduldig haar poot. “In die Stad van Lesers kan almal lees. En dié wat nie kan lees nie, leer lees.”

“Wel, wat kan met my gebeur?” vra mnr. Haas.

Mnr. Leeu spring vorentoe, en sy snorbaarde swiep in sy gesig. “Dié wat nie kan lees nie, maak weer en weer dieselfde foute,” grom hy. “En jy sal ook.”

“Ha!” giggel mnr. Haas. “Nie ek nie, kietsie!” En met daardie woorde marsjeer hy onder mev. Olifant deur. Toe hop hy in die pad af wat na die Stad van Lesers lei.

Gou hoor hy die geluide van die stad. En toe sien hy dit. Hy was nog nooit voorheen in die stad nie.

Hy loer na mnr. Luiperd se gesig op die noot. Dit lyk of hyhom waarsku om nie te gaan nie.

“Maar ek is die Wyse Klein Een,” sê mnr. Haas. “Ek is baie slimmer as enigeen in die Stad van Lesers.” En met ’n hop is hy binne-in die stad.

Die eerste mense wat hy sien, is skoolseuns en -meisies. Hulle lyk netjies in hulle blou-en-geel uniforms. Hulle dra skooltasse en boeke.

“Goeiemôre, mnr. Haas!” groet hulle.

“Hallo daar!” roep mnr. Haas terug, trots dat hulle weet wie hy is. Maar hy is nuuskierig. “Hoe weet julle wie ek is?” vra hy.

“Ons het in ons storieboeke van jou gelees,” sê ’n meisie. “Oor hoe mnr. Skilpad jou in ’n resies uitoorlê het.”

Hulle lag almal. Mnr. Haas gluur hulle kwaai aan en stap vinnig verder.

Hy sien mense wat haastig ’n trein probeer haal. By die betaalkiosk staan ’n man in ’n deftige uniform agter die toonbank. Hy hou sy hand uit na mnr. Haas. Terwyl mnr. Haas die R200-noot ophou, sê hy: “Ek is op pad na mnr. Mandela toe.”

Die man agter die toonbank gryp die noot uit sy poot …

“Haai!” protester mnr. Haas.

Toe gee die man vir hom ’n R100-noot.

Op die trein bekyk mnr. Haas die noot. “Dit het blou geword,” sê hy dronkgeslaan. “En nou is mnr. Buffel in mnr. Luiperd se plek.” Hy draai die not om. “Maar mnr. Mandela is nog hier.” Hy haal ’n wortel uit sy sak en knibbel daaraan terwyl hy na die landskap buite kyk.

“Sien jy, mnr. Buffel,” sê hy vir die R100-noot. “Selfs al kan ek nie lees nie, is ek op pad om mnr. Mandela te gaan ontmoet.”

“Verskoon my, Meneer.”

Mnr. Haas kyk op na ’n man in ’n blou uniform. “U mag nie op die trein eet nie. Kan u nie die teken lees nie?” Hy wys na ’n teken bo mnr. Haas se ore wat lui:

1MOET ASSEBLIEF NIE OP DIE TREIN EET NIE

“O,” sê mnr. Haas, en sit die halfgeëete wortel terug in sy sak.

Hy klim by die volgende stasie af en bevind hom gou in ’n besige straat.

Bra Tsotsi hou mnr. Haas dop terwyl hy oor die straat probeer loop, en sien wat hy in sy poot vashou.

“’n Honderd!” sê hy, en lek sy lippe af. Hy stap gou na mnr. Haas toe. “Jy lyk verlore, broer,” grinnik hy. “Ek is Bra Tsotsi, hier om nuwe besoekers aan ons stad te help.”

“Ek is mnr. Haas,” skud hy blad. “En ek is op pad na mnr. Mandela toe,” sê mnr. Haas, “om dit vir hom te gee.” Hy hou die geldnoot uit.

“A,” sê Bra Tsotsi. “Mandela is my beste vriend. Ek sal dit vir hom neem.” Hy gryp die R100 en verdwyn in die skare.

Mnr. Haas is nie gelukkig met die verloop van sake nie. Hy wou mnr. Mandela self ontmoet het en sy hand geskud het. Maar nou sal hy moet omdraai en huis toe gaan. En wat gaan hy vir die diere vertel oor sy ontmoeting met mnr. Mandela?

“Nee,” besluit hy. “Ek moet Bra Tsotsi vind en die not terugvat.”

Mnr. Haas vleg vinnig deur die woelige skare, spring oor bewegende motors en pyl by winkels in en uit.

“En daar is hy!” Mnr. Haas sien vir Bra Tsotsi in MaPhiri se Peri-Peri-hoenderwinkel, lekker aan’t smul aan ’n R50-boks Vurige Vlerkies.

“Haai, Bra Tsotsi,” sê mnr. Haas, “gee my noot terug.”

Bra Tsotsi skrik so groot dat van die peri-peri-sous in sy keel vassteek en hom laat hik.

“Hier hik is hik dit hik,” sê hy, en oorhandig ’n R50-noot.

“Pienk?” dink mnr. Haas verward toe hy die not ophou. “En wat het van mnr. Buffel geword?

Maar hier is mnr. Leeu om my te vertel ek moet kan lees om in die stad te oorleef! Ha!” Hy draai die noot om. “Maar ten minste is mnr. Mandela nog hier.”

Mnr. Haas sien mense in ’n ry staan vir ‘n taxi. Agter hulle, in die staanplek, is ’n foto van mnr. Mandela.

“A-ha,” sê mnr. Haas. “Hulle gaan seker ook almal vir mnr. Mandela kuier.” Hy gaan staan in die ry. En toe die taxi kom, klim hy in.

“Waar woon mnr. Mandela?” vra hy vir die bestuurder.

“Aan die einde van die lang pad na vryheid, my vriend,” sê hy met ’n vriendelike glimlag. “Ek sal jou soontoe neem.”

Hulle ry ’n halfuur, verby ’n skool, straatsmouse, af met die snelweg, verby ’n kerk, deur ’n woonbuurt. Uiteindelik hou die bestuurder by ’n taxistaanplek stil.

“Jou halte, my vriend,” sê die bestuurder. “Stap net met hierdie straat op tot by die groot huis met die groot hek en die wag wat buite die hek staan. Dit sal R30 wees.” En hy vat die R50-noot uit mnr. Haas se poot.

Mnr. Haas wil begin protesteer toe …

“Jou kleingeld, Meneer.” Die bestuurder druk ’n noot in sy poot.

Mnr. Haas kyk na die nuwe noot. Dit lyk weer anders as die vorige een. In plaas van

mnr. Leeu is dit mev. Olifantwat na hom staar. Maar toe hy dit omdraai is die glimlaggende mnr. Mandela nog daar. Mnr. Haas glimlag terug en begin met die lang pad op hop.

Op pad is daar ’n bakkery. Hy gaan staan en snuif in die lug. Wat is daardie heerlike geur? Hy druk sy gesig plat teen die bakkery se venster en staar na die oliebolle, pannekoeke, pasteie, tertjies, vrugtekoek en koekies.

Mnr. Haas hop tot binne-in die winkel.

“Kan ek jou help, Meneer?” vra ’n vrou agter die toonbank.

“Ek wil graag een van hierdie hê,” sê hy, en wys na die oliebolle. “Nee, nee, een van daardie,” en hy wys na ’n stuk melktert. Toe ’n sny sjokoladekoek, ’n koekie, appeltert, ’n koeksister.

“Asseblief, Meneer, jy moet besluit wat jy wil hê.”

Mnr. Haas wys uiteindelik na ’n rosyntjiebrood.

“A-ha!” glimlag die vrou. “Goeie keuse.”

Sy sit die rosyntjiebrood in ’n papiersakkie en gee dit vir mnr. Haas. Toe hy weer kyk, is

mnr. Mandela se bruin noot in haar hande. En toe sy dit in sy poot terugsit, is dit groen! En

wie dink jy het mev. Olifant se plek gevat? Daar is mnr. Renoster, wat hom waarsku teen

die Stad van Lesers.

Mnr. Haas huppel uit die winkel, hap aan sy rosyntjiebrood en wonder: “Hoeveel keer sal mnr. Mandela se noot nog van kleur verander voordat ek hom ontmoet?” Toe sien hy die wag by die groot hek. Hy hop tot by die wag, groet hom en vra: “Woon mnr. Mandela hier?”

“Ja.”

“Ek is mnr. Haas van die Afrika-bos. Ek het ’n belangrike noot vir hom.”

Die wag vra: “Het u ’n afspraak?”

“Nee,” sê mnr. Haas. “Ek het ’n noot.”

Die wag draai om en praat in die interkom.

“Meneer, ek het ’n mnr. Haas van die bos …”

’n Vriendelike stem kraak oor die interkom. “Mnr. Haas! Die groot mnr. Haas van die Afrika-bos?”

“Ja, mnr. Mandela.”

“Wel, laat hom inkom!”

Dit is ’n wonderlike ontmoeting. Die groot hand van mnr. Mandela skud die beroemde mnr. Haas se poot. Die twee vermaak mekaar met stories oor die stad en die bos, oor leeus en helde, oor vryheid en avontuur.

Toe vertel mnr. Haas vir mnr. Mandela waarom hy gekom het.

“Ek het hierdie noot op my deurmatjie gevind,” sê hy, en oorhandig die R10. “Dit het al baie keer van kleur verander en die gesigte van al my groot vriende in die bos het daarop verskyn. Ek het geweet dis joune, en daarom wou ek dit self vir jou kom gee.”

2Mnr. Mandela is verward, maar hy aanvaar die noot met ’n glimlag. ’n Fotograaf neem foto’s van mnr. Mandela en mnr. Haas. En ’n TV-span kom om hulle te verfilm vir Nuus om Ses.

Toe mnr. Haas by die huis kom, roep hy die diere byeen. Hy vertel vir die diere van sy opwindende avontuur – van die mense wat hy ontmoet het en die plekke wat hy gesien het. En hoe hy uiteindelik vir mnr. Mandela ontmoet het.

“En, my vriende,” sê hy, en kyk selfvoldaan na Leeu en Olifant en Buffel en Luiperd en Renoster, “ek het dit alles gedoen sonder dat ek ’n woord kan lees.” En met dié sak die son, en al die diere keer terug na hulle huise vir ’n goeie nagrus.

Die volgende oggend word mnr. Haas wakker van ’n gedoef op sy drumpel.

“Wat was dit?” wonder hy. “Dalk is dit die kwaai gedoef van mev. Olifant wat met my kom stry.”

Hy loer buitentoe, maar mev. Olifant is nie daar nie. Daar is wel ’n groot koevert op sy mat.

Hy gaan uit en kyk rond om te sien wie dit gebring het, maar hy sien niemand nie.

Mnr. Haas maak die koevert oop. Dit is ’n brief:

Beste mnr. Haas

Die hele land praat nog van jou besoek. Dankie dat jy vir my al daardie stories vertel het, en dat jy die R10-noot teruggebring het. Ek sluit ’n R200-noot vir jou in wat jy kan gebruik wanneer jy volgende keer stad toe kom.

Beste wense

Nelson Mandela

 Omdat hy nie kan lees nie, stel mnr. Haas nie in die brief belang nie. Maar iets val uit die koevert en fladder tot op die mat

.Mnr. Haas kyk af na die R200-noot. Hy kan sy oë nie glo nie.

“Ek glo dit nie!” roep hy. “Op presies dieselfde plek as gisteroggend.”

Sonder om tyd te mors, roep hy die diere weer byeen.

“My vriende,” kondig hy aan, “dis vir my ’n groot raaisel dat die noot teruggekom het.” Hy waai dit rond sodat almal dit kan sien. “En ek moet teruggaan na mnr. Mandela om dit vir hom terug te gee.”

En sonder nog ’n woord hop hy weg, af met die pad na die Stad van Lesers, met die wapperende noot in sy poot.