Stories

Malusi en die Badmonster

Elke woord wat volg is waar − op my erewoord. En as ek lieg, eet ek ’n vlieg!

Ek en my ouer suster, Zandi, speel graag heeldag in die tuin. Ons slof in die modder rond en grawe diep gate. Vergeet van skoene − kaalvoet is die beste. Jy kan voel hoe die modder tussen jou tone inwriemel. Ek is mal daaroor!

Mamma sê altyd: “Haai, julle twee! Net varke hou so baie van modder.” Soms raak sy bekommerd dat ons te vuil raak. Ek sien hoe sy haar kop skud − maar sy glimlag altyd. In elk geval, dis goed so, want daar is niks lekkerder as ’n warm bad nadat jy in die tuin gespeel het nie.

Maar Zandi is baie erger as ek − baie, baie erger. Ek maak net my hande en voete vuil. Zandi is vuil van kop tot tone. Sy spring in die gate en rol in die modder rond. Haar hare en haar arms word vuil. Selfs haar neus se punt word vuil.

monster 1 colour fin

Mamma sê: “Dis badtyd, julle twee!”

Maar Zandi wil nie inkom nie. “Malusi,” sê sy vir my, “ek bly net hier − in hierdie gat!”

Ek sê vir haar sy sal moet inkom om te kom bad. Zandi skud net haar kop. “Jy is ’n baie lawwe seun, Malusi,” lag sy.

Maar ek hou sommer baie van al die seepborrels in die bad. Nou’s dit tyd om die modder en grond van my voete af te was. Ek skrop en skrop en skrop. Nou is my voete skoon − niks meer modder nie. Nou was ek my gesig. Ek skrop en skrop en skrop. Dit voel so lekker.

Toe kom Zandi binne. Sy is nog vol modder − van haar kroontjie tot haar toontjies. Sy gee my een kyk en kry ’n vreemde uitdrukking op haar gesig. “Malusi,” sê sy, “is jy nie bang vir die Badmonster nie?”

“Daar is nie so iets soos ’n Badmonster nie,” lag ek.

“O, ja, daar is,” sê Zandi. “Hy kom deur die propgaatjie en het drie arms en vier oë en hy is altyd honger.” Ek dink Zandi probeer my net bangmaak.

“En ek sal jou nog iets vertel,” sê Zandi, “daar is niks waarvan die Badmonster meer hou as om skoon kinders op te vreet nie. Dis hoekom ek nie gaan bad nie. Daardie verskriklike Badmonster hou niks van vuil kinders nie.”

O, aarde, nou is ek net ’n bietjie bang. Dalk is daar regtig ’n Badmonster.

Zandi glimlag breed: “Reg, Malusi. Geniet jou bad − maar moenie dat die Badmonster jou opgevreet nie!” Sy stap by die badkamer uit en gaan reguit bed toe. Sy gaan haar bed vuilsmeer, maar ten minste sal die Badmonster haar nie opvreet nie. Eek!

“Moenie bang wees nie, Malusi,” sê ek vir myself. “Daar is nie iets soos ’n Badmonster nie.”

En toe gebeur dit. Eers hoor ek ’n sagte gorrelgeluid − soos water wat in die drein afloop. Toe hoor ek ’n vreemde gekreun en toe ’n harde gerammel. Toe is daar ’n gepiep en ’n suiggeluid en ’n swoesj. En skielik skiet iets uit die propgaatjie op: DIE BADMONSTER!

monster 2 colour fin

Voor ek enigiets kan doen, lig die Badmonster sy drie groot arms op en swaai hulle al in die rondte – weer – en weer – en weer. Toe knip hy sy vier groot oë en sê in ’n diep, waterige stem: “Jy is nie die vuil enetjie nie. Dis mos jou suster, nie waar nie? Sy sê altyd nare goed van my − en dis nie waar nie. Nie een van die Badmonsters eet graag kinders nie.”

“O, nie?” sê ek baie verlig.

“Glad nie,” lag die Badmonster. “Ek gee nie om as ek elke nou en dan seep en sponse moet eet nie − en ek hou van ou sokkies − maar ek eet nooit kinders nie.” Toe glimlag die Badmonster breed. “En die Toiletmonster eet ook nie kinders nie. En die Stortmonster ook nie. Die enigste monster wat graag kinders eet, is die Bedmonster. Maar moenie bekommerd wees nie, Malusi, hy eet nooit skoon kinders nie − net vuil kinders wat gaan slaap sonder om te bad!”

O, nee! Wat van Zandi! Gou-gou vertel ek vir die Badmonster van my suster.

“Ons het nie tyd om te mors nie,” sê die Badmonster. “Skep ’n glas water uit en hardloop so vinnig as wat jy kan na Zandi se kamer.”

Ek kom net betyds daar aan − die Bedmonster se bek is wawyd oop. Hy wil vir Zandi insluk. “Weg is jy, monster!” skree ek. Toe gooi ek die water oor my suster uit.

“Hoera!” skree die Badmonster. “Die vuilgoed is afgespoel. Nou’s sy skoon en veilig.”

Dis reg. Ek het Zandi van die Bedmonster gered! En dis presies wat ek vir Mamma vertel toe sy vra waarom ek ’n glas water oor my suster uitgegooi het. Ek weet nie of sy my glo nie. Maar elke enkele woord is waar − op my erewoord. En as ek lieg, eet ek ’n vlieg!