Stories

Lwazi en die knortjor

Op ’n dag vind Lwazi ’n ou stootkarretjie in die leë veld naby sy huis. Dit is stukkend, maar het nog vier goeie wiele. Hy haal die wiele af en kyk daarna. “Ek wonder wat ek kan bou,” dink hy. “Ek weet, ek sal ’n knortjor bou.”

Hy stap na die timmerman toe. “Asseblief, Meneer, het jy afvalhout wat ek kan kry?”

Die timmerman stap na sy houthoop toe en haal vir Lwazi drie ou planke uit. “Vat hierdie vir jou,” sê hy. “Maar wees versigtig. Oppas vir splinters.”

Nou het Lwazi vier wiele en drie planke, maar hy het ook tou nodig.

Hy stap hawe toe. Daar is mnr. Smit, die visserman, besig om snoek van sy skuit af te laai. “Mnr. Smit, het jy asseblief vir my ’n ou stuk tou?”

“Kry vir jou,” sê die visserman. “Twee meter. Wees versigtig wanneer jy dit sny. Moenie per ongeluk jou vinger raak sny nie.”

Nou het Lwazi vier wiele, drie planke en twee meter tou, maar hy het ook boute nodig.

Hy stap toe na die werktuigkundige by Granville’s Garage. “Asseblief, Meneer, kan ek ’n paar boute en moere kry?”

“Vat vir jou,” sê die werktuigkundige. “Maar wees versigtig. Moenie jouself seermaak wanneer jy die gate boor nie.”

Nou het Lwazi vier wiele, drie planke, twee meter tou en ’n handvol boute en moere. Hy kies koers na sy oom se huis. Oom Rodney het ’n lekker groot erf en Lwazi spring aan die werk.

Lwazi saag en kap en kap en boor en boor en saag die hele oggend. Toe dit middag word, is hy baie moeg, maar sy knortjor is nog nie klaar nie. Hy moet dit nog glad skuur sodat daar nie splinters is wat hom kan seermaak nie.
Lwazi-1fin (2)

“Wat maak jy?” vra sy niggie, Lulu, toe sy buitentoe kom.

“Ek bou ’n knortjor,” verduidelik Lwazi.

“Kan ek saam met jou daarop ry wanneer dit klaar is?” vra Lulu.

“As jy my help om dit af te skuur,” antwoord Lwazi.

Lulu vat die skuurpapier en begin die kante mooi glad skuur.

Lwazi se twee maats, Ismail en McKenzie, stap verby op pad winkel toe. “Wat maak julle?” vra hulle.

“Ons bou ’n knortjor,” sê Lwazi en Lulu.

“Kan ons ’n beurt kry om daarop te ry wanneer dit klaar is?”

“As julle ons help,” antwoord hulle.

Die seuns vat toe nog skuurpapier en skuur die binnekant, voorkant en agterkant mooi glad. Uiteindelik is die knortjor klaar.

“Ek gaan eerste ry,” sê Lwazi, en sleep die knortjor tot bo-op die bult.

“Dis nie regverdig nie,” sê Lulu. “Jy het gesê ek kan ’n beurt kry.”

“En ons,” sê Ismail en McKenzie. “Jy het gesê ons kan almal daarin ry.”

“Ons wil almal ons beurt hê!” skree Lulu en Ismail en McKenzie.

Toe hulle bo-op die bult kom, spring hulle almal in – Lulu en Ismail en McKenzie sit almal bo-op die knortjor en hou styf vas. “Hier gaan ons!” skree Lwazi, gee die knortjor ’n stoot en spring agter op.

Hulle ry vinniger en vinniger, en dit ratel en raas en hulle skree en lag tot Lulu skielik skree: “Haai, daar’s die vlei! Hoe stop ons hierdie ding?”

“Ooeeps,” sê Lwazi, “ek het vergeet om REMME aan te sit!!!”

Boem, bam, kedoef, plop!

Die knortjor tref die draadheining en die kinders vlieg oor die heining en beland in die vlei.
Lwazi-2fin (2)

“Au, au, eina,” skree McKenzie, toe hy opkom vir lug, “my neus!”

“Eina!” gil Ismail, en trek die vleigras van sy gesig af. “My kop pyn.”

“Oe, oe, oe, my sitvlak is seer!” kerm Lulu en waggel uit die vlei uit.

“Waar’s Lwazi?” roep Lulu. “Is hy onder die water?”

“Het hy verdrink?” skree Ismail en McKenzie.

“Hier is ek!” roep Lwazi en loer oor die heining. “Kyk net na die arme knortjor!” Aan die kant van die pad lê vier wiele, drie planke, twee meter tou en ’n handvol boute en moere.

“Ag, nee,” sê Lwazi. “Ons sal van voor af moet begin.”

“En,” sê Lulu terwyl sy haar sitvlak vryf, “onthou asseblief hierdie keer om remme aan te sit.”

Almal lag lekker.