Stories

Feleng leer lees

Feleng die vismot is gek na stories. “Mamma,” sê hy elke aand, “vertel asseblief vir ons ʼn storie. Ek belowe ons sal daarna dadelik gaan slaap. Asseblief, asseblief, asseblief!”

Mamma Vismot ken net een storie, en sy is al ʼn bietjie moeg om dit te vertel. Maar Feleng en die ander vismotkindertjies smeek so hard dat sy altyd ingee. Sy vertel hulle van haar avonture in die kombuis. Sy praat oor haar lang reis daarheen, en oor al die groot, vreemde dinge wat sy in die kaste sien. “Mense het so baie goed, soos koppies en borde en lepels,” sê sy. “Mense is baie vreemd!”

Die beste deel van die storie kom wanneer Mamma Vismot vir die kinders vertel van al die kos waaraan sy geproe het. “Daar was broodkrummels, appelskille, heerlike happies pap en suikerkorreltjies agter die stoof …” sê sy.

“Njammies!” mompel hulle vakerig, “njam-njam!”

Maar gou rek hulle oë pieringgroot. Mamma kom nou by die vreesaanjaende deel van haar storie – die dag toe ʼn mens haar probeer plattrap het. “Ek moes hardloop vir my lewe!” sê Mamma Vismot en rol haar oë. Al die vismotjies bibber en beef en wikkel hulle voelers … Dit beteken dit is tyd om te gaan slaap.

Op ʼn dag sê Mamma Vismot vir haar kinders om uit te gaan vir middagete. “Feleng, jy is die oudste,” sê sy. “Kyk asseblief mooi na jou boeties en sussies.”

Vismotte eet nie elke dag nie, en daarom is al die kinders baie opgewonde. Hulle wag geduldig totdat die mense uit is, en die huis stil. Toe kruip hulle een vir een uit die kraak in die muur waar hulle woon. “Volg my,” fluister Feleng. “Doen presies wat ek doen.”

Op, op, op kruip hulle teen die poot van ʼn groot tafel. Op die tafel lê drie of vier oop boeke. Daar is ook papiere en kryte oor die tafel gestrooi. “Kyk al hierdie heerlike kos wat net hier vir ons lê en wag!” giggel Feleng se suster Phuti. “Dis ʼn goeie ding mensekinders is so morsig!”

“Njam!” sê al die vismotkindertjies toe hulle in die rugkant van die boek inklim. “Njam-njam!”

Maar skielik sê Feleng: “Moenie die boeke eet nie. Eet liewer hierdie,” en hy wys na ʼn opgefrommelde tekening. “Dit sal lekkerder smaak. Daar’s lekker kryt op die prent.”

“Nou goed dan,” sê sy boeties en sussies. Hulle is te honger om met hom te stry. Gou-gou knibbel hulle almal aan die prent − almal behalwe Feleng. Eers kyk hy na die swart krabbels en die helderkleurige prente op die oop bladsye van die boek. Toe klim hy daarop en begin stadig en versigtig van krabbel na krabbel beweeg. Eers smul sy boeties en sussies te lekker om te sien wat hy doen. Maar na ʼn rukkie kyk sy klein sussie Fifi op. “Wat doen jy, Feleng?” vra sy met haar hoë piepstemmetjie. “Hoekom eet jy nie?”

Feleng glimlag net. “Wag en sien,” sê hy. “Ek sal jou later vertel.”

Daardie aand, toe die klein vismotjies saam met hulle mamma in die kraak in die muur opkrul, begin Feleng praat. “Ek weet wat julle wil hê!” sê Mamma Vismot. Sy is in ʼn goeie bui na haar rustige dag alleen tuis. “Julle wil hê ek moet vir julle ʼn storie vertel.”

Feleng grinnik. “Nie vanaand nie,” sê hy. “Fifi, vertel vir Mamma wat ek vandag gedoen het.”

Toe Mamma Vismot hoor hoe Feleng oor die krabbels van die boek geloop het terwyl die ander kinders geëet het, is sy ʼn bietjie bekommerd. “Wat het jy gedoen, Feleng?” vra sy. “Jy weet mos alle kinders moet eet.”

“Ek kan môre eet,” sê Feleng. “Vandag het ek iets gedoen wat selfs beter is – ek het leer lees!” Toe verduidelik hy hoe hy van die swart krabbels na die prente op die bladsy gekyk het. “Ek het besef hulle wil vir my iets vertel,” sê hy. “Na ʼn rukkie het ek begin verstaan wat die krabbels beteken … hulle is letters, en letters vorm woorde. En woorde vorm sinne, en sinne vorm stories. Vanaand kan jy rus, Mamma – want vanaand is dit my beurt om vir JOU ʼn storie te vertel!”

En toe begin Feleng vir sy mamma en boeties en sussies ʼn storie vertel van ʼn mensekind wat na die rivier toe gegaan het en ʼn krokodil ontmoet het. “Wat is ʼn rivier? Wat is ʼn krokodil?” skree die klein vismotjies.

“Ek weet nie,” lag Feleng, “Ek sal môre uitvind. Maar die prentjie was van ʼn groot, vreesaanjaende gedierte met ʼn baie groot bek.”

“Soos ʼn mens!” sê Mamma, en sy ril, en al die vismotjies ril en kerm en wikkel hulle voelers … En dit beteken dis tyd om te gaan slaap.