Stories

Eekhoring en die son

Een oggend, toe die diere wakker word, is hulle verbaas om te sien dat daar geen teken is dat die son in die ooste gaan opkom nie.

“Wat gaan aan?” vra al die klein diertjies vir hulle ouers.

“Wees net geduldig!” sê hulle mammas en pappas. “Die son is seker vandag ʼn bietjie lui. Dit sal netnou soos gewoonlik opkom, en dan kan ons gaan water drink by die watergat.”

Maar die diere is verkeerd. Hulle wag en wag, maar die wêreld bly donker. Na ʼn hele paar uur besluit hulle om ʼn vergadering te hou om die probleem te bespreek.

“Wat gaan ons doen?” vra Seekoei.

“Dis baie eenvoudig,” sê Kameelperd. “Ons moet almal na die son gaan soek. Ons kan nie sonder die son se lig lewe nie!” Die ander diere stem saam. Toe vertrek hulle in verskillende rigtings, vasberade om die son te vind.

Squirell and Sun (1)“Ek sal in die bome van die groot woud begin soek,” sê Eekhoring vir haarself. Sy soek in elke boom waar sy elke dag dartel en speel. Eers vind sy net donkerte. Toe sy dieper en dieper in die woud ingaan, sien sy ʼn baie dowwe skynsel ver voor haar. “Daar’s dit!” roep sy opgewonde. “Ek het geweet ek sal die son hier kry!” Eekhoring is reg. Na ʼn uur kry sy uiteindelik die son, verstrengel in die ruie takke van ʼn hoë boom. “Moenie bekommerd wees nie, Son!” sê Eekhoring. “Ek is dalk klein, maar my tande is baie skerp! Ek sal die takke afknaag en jou in ʼn japtrap loskry.”

“Dankie, Eekhoring,” kreun die son. “Ek sukkel al ure lank om uit hierdie takke los te kom, maar hoe harder ek probeer, hoe meer verstrengel raak ek.”

Die klein eekhoring begin aan die takke knibbel en knaag. Dit is harde werk, maar sy gee nie op nie. Na ʼn halfuur het sy die son al effens los; en na nog ʼn uur is daar net ʼn paar klein takkies en stokkies waaraan die son vassit. Maar nou het die eekhoring ʼn probleem − hoe meer takke sy afkou, hoe warmer brand die son. Eekhoring begin sweet. Sommer gou ruik sy hoe haar pels skroei en rook. Haar mond is so droog dat sy skaars kan praat. “Ek is jammer, Son, maar ek kan nie meer nie,” sê sy hees. “Jy is net te warm vir my! Kyk, my stert is aan die brand!”

Die son is desperaat om los te kom. “Hou asseblief aan, Eekhoring!” sê Son. “Ek moet uit hierdie takke loskom sodat ek elke dag vir die wêreld kan lig gee. Al die diere en voëls en plante het my lig en warmte nodig om te oorleef.”

Eekhoring weet dit is waar. Al is haar pragtige bruin pels swart gebrand en al is haar stert heeltemal afgebrand, hou sy aan om deur die takke te knaag wat die son steeds vashou.

Nog tyd gaan veryby. Teen hierdie tyd het Eekhoring die son byna heeltemal losgewikkel, maar haar oë kry so seer dat sy hulle moet toemaak. Eekhoring is gedaan en voel dat sy regtig nie meer kan nie. “Asseblief, Son,” sê sy, “ek kan nie meer nie. My oë is beskadig en ek moet hulle rus.” Maar weer smeek die son haar om voort te gaan, en so hou Eekhoring aan.

Uiteindelik kou sy die laaste stukkies bas en hout af wat die son vashou. Stadig begin die son in die lug opstyg, en sprei ʼn pienk gloed oor die aarde uit. Terwyl die son opkom, praat hy met die eekhoring. “Baie dankie, my klein vriendjie!” sê Son. “Jy het hard gewerk om my te red, en so het jy al die diere en voëls en plante gered. Wat kan ek nou vir jou doen?”

Eekhoring dink ʼn rukkie hieroor na. Sy wou nog altyd vlieg. “Gee vir my vlerke,” sê sy, “sodat ek hoog in die lug kan vlieg.”

“Nou goed,” sê die son, “nou het jy ʼn paar vlerke, en jy sal selfs vinniger en Squirell and Sun (2)verder as die voëls kan vlieg. Maar omdat jou oë seergekry het toe jy my gehelp het, sal jy bedags slaap en snags wakker wees. En al kan jou oë nie meer die lig verdra nie, sal jy snags baie goed kan sien en hoor!”

En dit is hoe die eekhoring ʼn vlermuis geword het. Sy was so besig om snags rond te vlieg dat sy nie haar stert en haar bruin pels en haar lewe as ʼn eekhoring in die boomtoppe gemis het nie. En al kon sy nie meer die sonlig geniet nie, het sy steeds die son se warmte in haar hart gevoel.