Stories

Dit het alles met ’n babahondjie begin

“Storie, storie, asseblief Gogo, vertel vir ons ʼn storie,” smeek Neo. Bella glimlag en knik.

“Ja, asseblief,” sê Afrika wat op Gogo se skoot sit.

Gogo lag. “Goed dan,” sê sy, “kom ek vertel vir julle die storie van hoe julle maats geraak het. Het julle geweet dit het alles met ʼn babahondjie begin?”

Neo knik. Bella glimlag en sê: “Vertel vir ons, vertel vir ons.” En so begin Gogo die storie vertel.

Een aand, nie te lank gelede nie, loop en snuffel ʼn babahondjie aan al die vullisblikke in die straat. Hy is honger en verdwaal. Hy weet nie waarheen hy op pad is nie, maar hy weet sy maag is leeg en hy moet kos kry!

Noodle bin lo-res

“Arme babahondjie,” sê Afrika.

Maar daar is geen kos naby die vullisblikke nie. Die hondjie tjank saggies. Hy moet eet en ʼn warm plek kry om te slaap. Hy stap in die straat af. Daar is baie huise, maar by sommige van hulle is daar groot honde wat vir hom blaf en tande wys. Hy is baie bang.

Toe, naby die end van die straat, sien hy ʼn klein huisie waar daar geen groot honde in die tuin is nie. Daar brand ligte binne en dit lyk warm en vriendelik. Die hondjie stap versigtig nader.

Toe die hondjie in die tuin kom, kry hy die heerlikste reuk. Die huis se voordeur staan oop, en hy kan die binnekant van die huis sien. Hy sien ʼn klein dogtertjie wat ʼn boek lees. Sy lag terwyl sy na die prente kyk.

“Tyd vir aandete,” hoor die hondjie ʼn sagte, vriendelike stem roep. Hy kyk hoe die dogtertjie se ma ʼn bord noedels op die tafel neersit. “Ek gaan gou my bord en die sous haal. Gaan was gou jou hande,” sê die vrou terwyl sy terugstap kombuis toe. Die klein dogtertjie hardloop badkamer toe.

Dis die oomblik waarvoor die hondjie gewag het. Hy storm binnetoe, spring op die stoel, druk sy gesig in die bord warm, heerlike noedels en eet alles op. Toe hardloop hy net so vinnig deur die oop deur om buite te gaan wegkruip.

noodle at table lo-res

“Maar, Mamma,” roep die dogtertjie toe sy by die tafel gaan sit, “daar is niks kos op my bord nie.”

“WAT?” Haar ma storm by die kamer in. “Maar ek het nou net noedels ingeskep.” Sy draai om en kyk na die oop voordeur. “Ai tog,” sê sy, “iets of iemand het ingekom en jou kos gesteel.” Sy maak die voordeur toe en sluit dit.

Intussen het die hondjie om die huis na die agtertuin gehardloop. Die kombuisdeur staan oop en hy sluip in. Die hele vertrek is gevul met die heerlike geur van kos. Op die kombuistafel staan ʼn groot pot en nog ʼn bord noedels. Die hondjie spring weer op ʼn stoel en weer druk hy sy kop in die bord noedels en begin eet.

Net toe stap die dogtertjie en haar ma in die kombuis in.

“Wat gaan hier aan?” vra die dogtertjie se ma hard.

Die hondjie is so bang; hy kruip in ʼn hoekie weg en tjank kliphard.

“Wat gaan ons met jou doen? Jy is BAIE vuil,” sê die vrou.

“Oee,” sê die klein dogtertjie, “en jou bek is vol noedels!”

“Maak toe die deur,” sê haar ma. “Kom ons eet eers en dan sal ons hom bad.” En dis toe wat hulle doen.

“Nou,” sê Gogo, “wie kan raai wat hulle die hondjie genoem het?”

“NOODLE!” skree Bella en Neo.

“Ja,” sê Gogo. “En weet julle wie die mense in die storie was?”

“Bella en haar ma,” skree Afrika.

“EK, EK, EK!” skree Bella. Neo lag.

“Maar dis nie die einde van die storie nie,” sê Gogo. “Bella moes gaan uitvind of die hondjie aan enigiemand behoort. Slegs as sy nie die eienaar kon vind nie, kon sy die hondjie hou. Die volgende dag het Bella en haar ma toe van deur tot deur geloop en vir almal gevra of dit hulle hondjie is. Maar niemand het hom al voorheen gesien nie. Op pad het Bella vir Mme wa Afrika raakgeloop en …”

girl carrying noodle lo-res

“VIR MY!” skree Afrika.

“Ja,” sê Gogo, “en so het julle almal vir Noodle ontmoet. En dis hoe julle almal maats geraak het. Noodle het Bella se hond geword omdat hy aan niemand behoort het nie.”

“En hy is die beste hond in die wêreld,” sê Bella.

“En ons is die beste maats in die wêreld,” sê Neo.