Stories

Die lewerikie en die granaatboom

Elke oggend, net soos die son sy kop bo die horison uitsteek, vlieg ’n lewerikie uit sy nes, sit op ’n tak van ’n granaatboom, strek sy vlerkies uit, lig sy kop en begin ’n pragtige lied sing om die oggendson te verwelkom.

Lark and Pomegranate tree_higher res_

Een dag, net toe hy klaar is met sy oggendlied, kyk die lewerikie ondertoe en daar sien hy ’n rooi-ryp granaat op die grond lê. Die granaat het seker oopgebars toe dit die grond tref, want oral lê die pitjies in die oggendson en skitter soos ryk, rooi robyne.

Die lewerikie vlieg grond toe en begin die sappige pitjies oppik. Toe hy sy kop lig om sy vreugde oor dié heerlike happie uit te sing, steek ’n pitjie in sy keeltjie vas. Hy skrik so groot dat hy in die oggendlug opvlieg.

Hoog in die lug, met ’n gehoes en geproes, spoeg die lewerikie die pitjie uit. Die pitjie val aarde toe en land op ’n rots teen ’n berghang.

Ongedeerd vlieg die lewerikie weg, maar die pitjie steek vas in ’n kraak in die rots. Daar lê dit jare lank en wag om te ontkiem. Daar was geen grond waarin dit kon groei nie en die reën was skaars.

Toe, eendag na ’n kwaai donderbui, begin die pitjie fyn-fyn wortelsprietjies uitstuur, op soek na iets waarin dit kan groei. Uiteindelik kry een van die sprietjies ’n vastrapplek in die kraak in die rots, en daarna kon niks dit verroer nie.

Die tyd gaan verby. Die seisoene kom en gaan. Langsaam versterk die tere sprietjies tot wortels, wortels wat sterk genoeg is om dieper en dieper in die kraak in te boor totdat hulle uiteindelik die rots laat oopbars en verbrokkel, terwyl die takke na die hemel reik.

En só het die boom gegroei.
Voëls het in die takke kom nes maak en die vrugte geëet, wat op die grond geval het, of lukraak oor die aarde versprei is om daar te lê en wag vir die reën om te val en die grond sag te maak.