Stories

Die koning van die voëls

Lank gelede, toe die wêreld nog jonk was, het Nkwazi, die groot visarend, al die voëls bymekaar geroep.

“Soos julle weet,” sê hy, “is Bhubesi die leeu die koning van die diere. Maar waarom moet hy vir ons as voëls praat? Ons moet ons eie koning kies … en omdat ek so koninklik is, sê ek dat ek koning behoort te wees!”

Al die voëls begin kwetter en kweel totdat een stem bo die ander uitstyg. “Nkwazi, jy is koninklik, dit is waar,” sê die reuse-ooruil, Khova. “Maar my groot oë sien alles wat gebeur. Dit maak my baie wys – en ’n koning het regtig wysheid nodig!”

Die voëls kwetter weer luidkeels, totdat die gompou, Ngqithi begin praat. “Ek dink ek behoort koning te wees!” sê hy. “Konings moet groot en sterk wees, en ek is die grootste van al die voëls.”
King_of_birds_1Die voëls begin stry oor wie koning moet wees. Toe klink ’n skril stem skielik bo die lawaai op. “Verskoon my! Verskoon my!” Dit is klein Ncede, die neddikkie. Al lag die skare voëls vir hom omdat hy so astrant is, laat hulle hom toe om te praat – maar nie een van hulle kan glo wat hulle hoor toe hy sê HY behoort koning te wees nie!

King_of_birds_2

 

 

“En wat sal jou nogal ’n goeie koning maak?” vra Nkwazi, toe almal uiteindelik ophou lag.

“Niks eintlik nie,” sê Ncede, “maar ek behoort dieselfde kans te kry as enigiemand anders!”

“Nou goed dan,” sê Nkwazi, “kom ons hou ’n kompetisie!” Al die voëls hou van hierdie idee. Hulle stem saam dat op die eerste dag ná die volmaan, wanneer die son aan die punt van die hoogste bergpiek raak, hulle almal sal opvlieg om te kyk wie die hoogste kan vlieg. Die wenner sal dan hulle koning word.

Die groot dag breek aan. Die voëls kyk geduldig hoe die son opkom. Al is klein Ncede vasberade om te bewys dat hy koning kan wees, weet hy sy vlerke is te swak om baie hoog te vlieg.

En toe, net voor die voëls begin vlieg, kruip hy stilletjies onder Nkwazi se vlerkvere in. Die visarend is so besig om die son dop te hou dat hy niks voel nie.

Die oomblik toe die son aan die bergpiek raak, vlieg die voëls hoog in die lug op. Sommer gou word die meeste van hulle moeg, en net die visarend, die uil en die gompou bly oor.

Khova is die eerste om uit te val. Toe hy grond toe sak, vlieg Nkwazi en Ngqithi hoër en hoër … maar na vyf minute kan die swaar gompou nie hoër vlieg nie. “Ai, Nkwazi,” roep hy hartseer terwyl hy grond toe swiep, “jy wen!”

King_of_birds_3

“WIEEE-WIEEE-WIEEE!” roep die visarend triomfantelik, en gebruik sy laaste bietjie krag om nog hoër te klim. Maar skielik hoor hy ’n tergende stemmetjie. “Nie so haastig nie, Nkwazi!” tjirp Ncede. Hy skiet onder visarend se vlerk uit en vlieg ’n entjie bo hom. “Jy het nog nie gewen nie!” Arme visarend! Hy is doodmoeg en kan nie hoër vlieg nie. Hy sak met ’n kreun terug grond toe.

]Die voëls is woedend oor Ncede se skelmstreek. Toe hy op die grond kom sit, storm hulle briesend op hom af – maar voor hulle iets kan doen, vlieg die klein voëltjie in ’n verlate slanggat in.

“Kom uit!” kras die voëls, “en kom kry die prys wat jy verdien!” Maar al hou hulle die hele nag voor die gat wag, roer Ncede nie.King_of_birds_4

 

“Kom ons maak beurte om wag te hou!” sê Nkwazi die volgende oggend. Khova stem in om eerste wag te hou terwyl die ander gaan slaap of jag. Hy wag vir ewig, maar daar is geen teken van Ncede nie. “My oë is so skerp,” sê hy vir homself, “ek het net een nodig. Ek sal my regteroog toemaak en my linkeroog oophou.” ’n Rukkie later ruil hy om en maak sy regteroog oop en sy linkeroog toe. Dit hou ’n rukkie aan, totdat hy uiteindelik vergeet om een oog oop te hou en vas aan die slaap raak.

King_of_birds_5

 

Dis net waarvoor Ncede gewag het! Hy vlieg reguit bos toe. “Jou dwaas!” skree Nkwazi, wat Ncede sien verdwyn net toe hy vir Khova kom aflos, “JY HET AAN DIE SLAAP GERAAK!”

Khova is so verleë dat hy besluit om snags te jag en bedags te slaap sodat die ander voëls nie ’n kans sal kry om hom te terg nie. Intussen fladder Ncede in die bos rond, en gaan sit nooit lank genoeg stil om gevang te word nie. En wie het toe koning geword? Wel, die waarheid is dat die voëls so vies was vir Ncede dat hulle nooit ’n koning gekies het nie!